Thursday, 26 March 2015

Evolusie van 'n leiwaterdam



Van die begin af was hierdie nie jou deursnee leiwaterdam nie. Die erf was alreeds omhein, die huis was al gebou en die tuin was min of meer uitgelê toe ons skielik besef ons het 'n dam nodig. Die hek was te klein om die groot Caterpillar graafmasjien deur te laat, toe moes ons toestemming by die bure vra om die draad aan hulle kant te knip. Ons wou 'n ronde dam hê, nie 'n reghoek of vierkant nie. Die gat is vinnig gegrawe. Rooiklei. Julle is gelukkig, het die werkers gesê, pure klei en geen nabank nie, dalk sal hy die water binnehou soos die outydse kleidamme. Maar die kleiwalle het gelek en ons het vinnig water verloor. Wat nou gemaak? Ons wou nie stene of sement gebruik nie, en het toe besluit op 'n plastiek damvoering. 


Tien jaar later is die voering vol gate, die leiwater stelsel nie langer bestendig nie en toe ons sit met 'n dam wat nie langer gebruik word nie. Die tuin rondom die dam is reeds gevestig en toe die plastiek eers uit is besef ons hoe mooi die kleigat eintlik is. So asof mens van bo af in een van Paul Potter se rou kleipotte inkyk. Dit sal jammer wees om dit sommer toe te gooi. Wat van 'n versinkte tuin, 'n braaiplek of 'n sandput? Almal gee raad, maar die gat wag geduldig. 

'n Jaar later toe die onkruid al skouerhoog groei soek ons steeds raad. Tot vriend Niël eendag uit die bloute opdaag in sy woonwa. Niël Jonker; broodbroer en bouer van my broodoond, skepper van bronsbeelde en skilderye. Net soos jare gelede kom hy op McGregor soek na koerasie en inspirasie. Hy gee die dam net een kyk en soek na potlood en papier om sy plan te skets. En so word die damfiteater gebore. 





Die vroedvroue was Niël en Abraham Fourie (alias Apie) die klipkunstenaar wat bekend is vir sy droë klipmure oral in die dorp. Niel het gemeet en gepas en beduie en Apie het self die nabank gaan uitkies op Colin se plaas. Hy het elke klip met hamer en priem losgebeitel uit die groot brokke leiklip, dit ingepas in die damwal en bevestig met 'n mengsel van sement, gruis en kleigrond. 

Twee dae later kyk vriendin Manuela verras na die damfiteater. “Dit lyk of die trappe altyd daar was! Kyk na die omlysting van die doringboom, die alwyne om die rand en die klei mure.”

Ja, dink ek, die teater was altyd daar, soos Dawid reeds in Michelangelo se rots was. Niël en Apie het dit net tevoorskyn gehaal.

Hester