Showing posts with label Hester. Show all posts
Showing posts with label Hester. Show all posts

Sunday, 17 May 2015

Werfjoernaal Mei 2015

Ek was reeds diep in my middeljare toe ek eendag 'n groep mense op televisie sien Tai Chi doen het. Ek was dadelik verlief op die vloeiende byna hipnotiese bewegings en het begin soek na 'n meester wat kans sou sien vir so 'n bleeksiel soos ek wat nog nooit enige sport beoefen het nie.


Ek oefen gereeld Tai Chi op die werf voor my bakoond saam met 'n klein groepie dorpenaars wat dapper genoeg is net na dagbreek saam met my in te val.

Volgens oorlewering dateer Tai Chi uit die vroegste eeue en is gegrond op die waarneming van diere en jagters. Hierdie gedig is geskryf as deel van 'n skryfoefening saam met Anne Schuster. Ons moes een versreel oor en oor gebruik en elke keer net die woordorde omruil. Ek het dadelik aan die sirkelgang van Tai Chi gedink, en spesifiek aan die die motief "grasp the sparrow's tail".


Sunday, 3 May 2015

Videopoetry: Brood




Brood



ek voel vanoggend vol klonte

soos meel en gis en water

rofweg gemeng in ’n bak

nog vreemd vir mekaar



laat my met rus

dek my liggies toe

met ’n sagte lap



kort voor lank is ek anders

ek het een geword

ek is wakker

ek is lewendig



ek lig my uit die mengbak

begin myself ritmies knie

uitrek en weer toevou

na vyf minute is ek buigsaam soos jong vel

bruisend van inwendige vreugde

gereed vir die gisting van die dag se gebeure



ek is perfek gevorm

in ’n lap van sagte oranje

rys ek nou uit

in die volheid van die tyd




verwarm my teen jou hart

tot my kors oopspring en glimlag

maak my wakker uit my tere groei

tot ek groot en bruin en knappend is

gereed om gebreek te word

en lewe te gee




POET

Hester van der Walt



Wednesday, 29 April 2015

Videopoetry: sy werk met verf op doek






sy werk met verf op doek

met ligte somerkleur

en vaste hand

skilder sy

‘n reuse ronde sfeer



so lig

so sag

so kwesbaar fyn

dit slaan my asem weg



elke dag gaan sy terug

sy soek na skaduwees agter die lig

ek hoor haar grawe in haar grot

jy sal dit nie meer herken nie

waarsku sy


ek skrik

wil haar keer

los die lig

wil ek sê

dis so ragfyn

so kwesbaar en jonk



maar ek bly stil

kyk net na die hoekige donker

wat stadig groei

en die ligte sfeer

al hoe helderder laat skyn




Hester van der Walt


Saturday, 25 April 2015

Videopoetry: Tai Chi








tai chi

my vingers van lig
sweef boontoe
om die mossie te omvlerk

die lig omvlerk
my mossie vingers
om boontoe te sweef

die mossie sweef
my vingers boontoe
om lig te omvlerk

die mossie omvlerkte lig
van my vingers
sweef boontoe

vingers omvlerk van lig
sweef boontoe
om my voete te grond in mos



Hester van der Walt 

Wednesday, 15 April 2015

Die free range old age home

McGreggoriete verwys speels na ons dorpie as 'n free range old age home. Al voel ek meestal nog jonk besef ek hoe langer hoe meer hoe broos ek is. So van broos gepraat, Saterdagaand vroeg was ek reeds gesellig in die bed en van plan om te kyk na ‘n film toe Pixel skielik verwoed en aanhoudend begin blaf. Ek hoor 'n dowwe slag en Pixel blaf harder. Dalk 'n motordeur wat klap? Ek stap buitetoe maar sien niks. Dit is donkermaan. Pixel se nekhare staan orent. Ek sluit die kombuisdeur oop en sit ligte aan. Deur die skuifraam sien ek hoe iemand weghardloop die tuin in. 


Skrik gee my dom dapperheid. Ek loop vasberade na die venster, sien dis oop en vra “Wat soek jy hier?” Ek skuif die raam af en knip die slot toe; sien dan eers die glasskerwe onder my slippers en besef die venster is gebreek. Maklik. Met een van die mooi klippe wat Lies bewonder en in die voortuin rangskik. 




ons is broos 

ons is weerloos 

ons is verkreukelde papawers wat

wawydoop wind en weer trotseer

ragfyn velblare kleef liggies 

aan 'n saadhuis vol fyn gaatjies 





Die werfbewoners trek 'n laer om ons. Pieter patrolleer met sy hond Pietie. Die inbreker kom sowaar weer terug om deur die venster te probeer klim en sy buit op te eis. In haar nagkabaai verjaag Lies hom weer met die brawade van haar byna tagtig jaar. “Hy is so brutaal!” vertel sy later aan die konstabel. Pieter slaan 'n spyker in die skuifraam om dit voorlopig te sluit. Die konstabel sê dit gaan mal in die dorp. Besig! En hy is al een op patrollie vir die hele gebied se plaas en dorpsmoleste.

Nadat almal weer huistoe is drink ons kamilletee. Pixel, die heldin, kry 'n koekie. Almal is weer binne. Ek dink aan een van David Kramer se ou liedjies. Buite huil die honde voor die hekke van paradise. 

Die papawers vou toe vir 'n onrustige nag. Gelowig. Dalk goedgelowig. 'n Fool’s paradise, maar nogtans bly dit hierdie free ranger se paradys.

Hester


Thursday, 26 March 2015

Evolusie van 'n leiwaterdam



Van die begin af was hierdie nie jou deursnee leiwaterdam nie. Die erf was alreeds omhein, die huis was al gebou en die tuin was min of meer uitgelê toe ons skielik besef ons het 'n dam nodig. Die hek was te klein om die groot Caterpillar graafmasjien deur te laat, toe moes ons toestemming by die bure vra om die draad aan hulle kant te knip. Ons wou 'n ronde dam hê, nie 'n reghoek of vierkant nie. Die gat is vinnig gegrawe. Rooiklei. Julle is gelukkig, het die werkers gesê, pure klei en geen nabank nie, dalk sal hy die water binnehou soos die outydse kleidamme. Maar die kleiwalle het gelek en ons het vinnig water verloor. Wat nou gemaak? Ons wou nie stene of sement gebruik nie, en het toe besluit op 'n plastiek damvoering. 


Tien jaar later is die voering vol gate, die leiwater stelsel nie langer bestendig nie en toe ons sit met 'n dam wat nie langer gebruik word nie. Die tuin rondom die dam is reeds gevestig en toe die plastiek eers uit is besef ons hoe mooi die kleigat eintlik is. So asof mens van bo af in een van Paul Potter se rou kleipotte inkyk. Dit sal jammer wees om dit sommer toe te gooi. Wat van 'n versinkte tuin, 'n braaiplek of 'n sandput? Almal gee raad, maar die gat wag geduldig. 

'n Jaar later toe die onkruid al skouerhoog groei soek ons steeds raad. Tot vriend Niël eendag uit die bloute opdaag in sy woonwa. Niël Jonker; broodbroer en bouer van my broodoond, skepper van bronsbeelde en skilderye. Net soos jare gelede kom hy op McGregor soek na koerasie en inspirasie. Hy gee die dam net een kyk en soek na potlood en papier om sy plan te skets. En so word die damfiteater gebore. 





Die vroedvroue was Niël en Abraham Fourie (alias Apie) die klipkunstenaar wat bekend is vir sy droë klipmure oral in die dorp. Niel het gemeet en gepas en beduie en Apie het self die nabank gaan uitkies op Colin se plaas. Hy het elke klip met hamer en priem losgebeitel uit die groot brokke leiklip, dit ingepas in die damwal en bevestig met 'n mengsel van sement, gruis en kleigrond. 

Twee dae later kyk vriendin Manuela verras na die damfiteater. “Dit lyk of die trappe altyd daar was! Kyk na die omlysting van die doringboom, die alwyne om die rand en die klei mure.”

Ja, dink ek, die teater was altyd daar, soos Dawid reeds in Michelangelo se rots was. Niël en Apie het dit net tevoorskyn gehaal.

Hester