McGreggoriete verwys speels na ons dorpie as 'n free range old age home. Al voel ek meestal nog jonk besef ek hoe langer hoe meer hoe broos ek is. So van broos gepraat, Saterdagaand vroeg was ek reeds gesellig in die bed en van plan om te kyk na ‘n film toe Pixel skielik verwoed en aanhoudend begin blaf. Ek hoor 'n dowwe slag en Pixel blaf harder. Dalk 'n motordeur wat klap? Ek stap buitetoe maar sien niks. Dit is donkermaan. Pixel se nekhare staan orent. Ek sluit die kombuisdeur oop en sit ligte aan. Deur die skuifraam sien ek hoe iemand weghardloop die tuin in.
Skrik gee my dom dapperheid. Ek loop vasberade na die venster, sien dis oop en vra “Wat soek jy hier?” Ek skuif die raam af en knip die slot toe; sien dan eers die glasskerwe onder my slippers en besef die venster is gebreek. Maklik. Met een van die mooi klippe wat Lies bewonder en in die voortuin rangskik.
ons is broos
ons is weerloos
ons is verkreukelde papawers wat
wawydoop wind en weer trotseer
ragfyn velblare kleef liggies
aan 'n saadhuis vol fyn gaatjies
Die werfbewoners trek 'n laer om ons. Pieter patrolleer met sy hond Pietie. Die inbreker kom sowaar weer terug om deur die venster te probeer klim en sy buit op te eis. In haar nagkabaai verjaag Lies hom weer met die brawade van haar byna tagtig jaar. “Hy is so brutaal!” vertel sy later aan die konstabel. Pieter slaan 'n spyker in die skuifraam om dit voorlopig te sluit. Die konstabel sĂȘ dit gaan mal in die dorp. Besig! En hy is al een op patrollie vir die hele gebied se plaas en dorpsmoleste.
Nadat almal weer huistoe is drink ons kamilletee. Pixel, die heldin, kry 'n koekie. Almal is weer binne. Ek dink aan een van David Kramer se ou liedjies. Buite huil die honde voor die hekke van paradise.
Die papawers vou toe vir 'n onrustige nag. Gelowig. Dalk goedgelowig. 'n Fool’s paradise, maar nogtans bly dit hierdie free ranger se paradys.
Hester
Hester
No comments:
Post a Comment