Monday 8 June 2015

Soetwater


Ek woon op Soetwater
waar suur reën uit die hemel val
en fontein Halcyon nie meer deur Pegassus kastei word
om my muse en haar susters te voed nie

Outydse fluitjiesriet moes wyk
voor die Arundo Donax se groen gordyn uit Spanje
waarvan die Houtbosloop al stadiger, vlakker vloei
en seekoei en krokodil lank nie meer hier hou nie –
ook hulle het moed verloor met rommel en afval
uit hutte wat soos vratte kruip deur die vallei

Graslande word ingeneem deur Bonga-bonga en esels-oor
en die mooi rooi lantanablommetjie met sy wroetende wortelsisteem
Vleilande droog op, en in ons aangeplante woude
hardloop duiker en grysbok in geroeste strikke vas

In die perskeboord – wat nou nie meer bestaan nie -
bo-op die berg waar ons hulp vandaan moes kom
het ’n buurman eens met tou aan stok, om sneller
na ’n beter plek gaan soek
Die buurman wat nou daar woon
se voertuie word vir hom ontruim,
Nes die swaar las van besittings
daagliks
vir ons almal ligter gemaak word
deur die wat vat wat hulle wil hê

Die wind het oor my plek gegaan
En ek ken hom nie meer nie
En ek wonder wat ek sal agterlaat vir my kinders
En hulle kinders en nog …

Die suidersterre wat saans oor Waaihoek verrys?
Die geeloogkanarie wat woon op my stoep?
Die Pizzaro’s en Monet’s geraam in my vensters?
Die stilte wat desondanks alles soms in my roep?

God, gee my asseblief genoeg geduld
Om uit te hou tot ek weer vrede vind




From: McGregor Poetry Anthology 2013

Published by African Sun Press in association with the McGregor Poetry Festival

ISBN number 978-0-620-62302-5


The Poet:



Engemi Ferreira is gebore in Bloemfontein, getoë in Namibië en het studeer in Pretoria, o.a. drama, kuns en sang. Haar eerste gedigte is inTydskrif vir Letterkunde gepubliseer toe sy vyftien jaar oud was en haar debuutroman Die jaar toe my ma begin sing het, het verskyn toe sy vyf en vyftig was. Tussenin lê ’n rekenaar vol verse, stories en songs

No comments:

Post a Comment