Dirk Hattingh

Dirk Hattingh

Natuur en kultuur in gesprek

Gedigte oor die natuur is die verwondering van die digter se emosies oor die natuur. Waarneem, luister hoe woord en beeld stoei om in die gedig te bly staan.

Klippe. Elke klip dra sy geheim oor die skepping. Riviere weer die lewensare van ons bestaan. Soms doen mense groot skade aan die natuur, en dan . . .

die wraak van die natuur in storms.

Soms dartel daar ’n skoenlapper.

Met ’n gebed oor die lewe sluit die laaste jaarring.

Diederik Johannes Hattingh, gebore 17.10.1926, plaaskind van Heilbron in die Vrystaat. Op Vrede in die Vrystaat matriek gemaak. Aan die Universiteit van Stellenbosch klassieke tale bestudeer, Afrikaans-Nederlands en Filosofie as hoofvakke. Doktorsgraad in Filosofie.

Veertig jaar lank predikant, waarvan die laaste 27 jaar in Stellenbosch. Veral in kerkreg en finansies belanggestel. Na aftrede 17 jaar vir Sanlam gewerk, veral beleggings gedoen.

Reeds op hoërskool in skryfwerk belanggestel. My kortverhale is destyds in die Landbouweekblad gepubliseer. Op 85-jarige leeftyd in digkuns belanggestel. Talle skryfskole, ook van universiteite bygewoon. Intussen het my vierde digbundel verskyn en die skryf van gedigte gaan voort.

Moontlik is die uitstaande kenmerk van my lewe om te luister. Om te hoor hoe die natuur sy gang gaan, fyn te luister hoe en wat mense praat. Wat jy hoor en sien diep weg te bêre in jou woelige
onderbewussyn wat soos die diepsee altyd verrassings boontoe beur. Selfs gedigte.